Sy ‘gee terug’ aan babas

Deur Brenden Ruiter, 15 Julie 2015

’n Kraaifontein-meisie wat 13 jaar gelede vroeggebore is in die N1 Stad-hospitaal, het op haar verjaardag besluit om iets spesiaal vir vroeggebore babas hier te doen.

Alex Smith en haar ouers, tesame met motorfietsbediening, The Knights of St. Christopher, het saam met die hospitaal ’n oggendtee gereël en aan ouers van babas wat tans in die neonatale eenheid is, komberse geskenk.

“Die kombersies is soortgelyk aan die een waarmee sy toegegooi is tydens haar verblyf by ons. Sy en haar ouers het inspirerende boodskappe gebring aan ons ouers en die kombersies oorhandig as ’n teken van hoop. Hierdie is regtig ’n merkwaardige jong dame wat teruggee op ’n baie spesiale manier en ons is baie bevoorreg om deel te wees van hierdie veldtog,” sê Talita Rautenbach, bemarkingsbestuurder van die hospitaal.

Alex se ma, Tracy, sê: “As gesin sit ons gereeld en kyk na ou foto’s en praat oor die verlede. Een aand het ons so gesit en praat en besef Alex se verjaardag is op hande. Haar pa skryf elke jaar iets wanneer sy verjaar om die geluk te vier dat sy nog lewe. Hy vra toe vir haar wat ons hierdie jaar gaan byvoeg by sy skrywe.” Die Knights is deur kerk-bande betrek. Die Smiths het Rautenbach gekontak en gereël dat die kombersies by die hospitaal afgelewer word, en kyk nou na planne om die projek uit te brei na ander hospitale.

Source: Netwerk24

Share if you like this articleShare on Facebook
Facebook
Tweet about this on Twitter
Twitter
Share on LinkedIn
Linkedin
Pin on Pinterest
Pinterest
Share on Google+
Google+
Email this to someone
email
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial